.
Die verhaal en toer het ‘n lang aanloop met baie kinkels en draaie. Dit is deur ‘n hele geboorte proses – ons as manne en vroue van oor die veertig weet wat plekvat in so ‘n proses. Sien! ek moet mooi verduidelik anners sal julle nie die kloutjie by die oor kan uitbring nie.
Vir die van julle wat my goed ken weet ook nou al teen die tyd dat ek ‘n man is wat staan vir die waarheid – ‘n leuen kan ek nie verdra nie! Nommer twee is ek baie lief vir die langpad. So het die verlange vir die ver paaie vroeg in die jaar kom sit kry hier in my binneste. In my kantoor hang daar twee kaarte van 1: 1 000 000. Op my “to do list” is die Baviaans en die Hel reeds lank uitstaande (ok! ek sal eerlik met julle wees – ek was net effe skrikkerig vir die paaie). Nouja so begin my soektog na iemand wat die trippie met my wil mee maak (Foutnommer 1). Ek wend my tot die internet en soek na moontlike toer-agente wat in 2009 moontlik in die rigting gaan. Kry een maar die belangstelling so vroeg in die jaar is min en dit val deur die mat. Ek loop elke dag met ‘n langgesig en is moerig omdat ek nie my sin kan kry nie – dit raak so erg dat my vrou nie meer met my kan huis hou nie (Foutnommer 2). Sy raak dik vir my – sweer wraak en op een mooi dag bel sy my ewe liefies en vertel my van die mannetjie van George wat dan nou kwansuis die Suidkaap op die punte van sy vingers ken en wat aangebied het om my op die epiese toer te vergesel. Vrinne hier moes ‘n intelligente ou al lont geruik het – maar my sinne is so verdof deur my emosies dat ek my pens, pootjies en vrywillig hierin begewe (Foutnommer 3).
Julle beginne nou seker al ‘n mooi prentjie vorm van wat wag op ‘n oorhaastige hond. Ja vroulief het jou binne in haar sluwe strikkie gevang, vasgebind, gestreepsak en mooi toegebind. Net waar sy my wil hê.
Laat my toe om julle voor te stel aan my sogenaamde TOERLEIER. Van geboorte tot vandag in George. Ene meneer Johan van Tonder alias Trail-rider (TR). Het tot sy eie blog nes Steve Hoofmeyer. www.trail-rider.co.za/ TR het ook sy weergawe van die rit op die blog volledig uiteengesit met die mooiste prentjies ter illustrasie van die verskillende terreine en plekke. Ek wil julle egter waarsku om eers hierdie weergawe klaar te lees voor julle na die prentjies gaan kyk – moet julle nie self vermoei met die teks nie - behalwe dat die boerseun dit in ingels geskryf het skets dit net die buitelyne van waarbinne die rerige storie hom afspeel. Dit het regtig nie veel om die lyf nie seker die wat hy die prentjies bysit. Ek dink in elk geval as julle my storie gelees het sal julle nie eintlik meer lus hê vir sy storie nie.
Wel as enigste en laaste uitweg bel ek vir TR om die aangeleentheid met hom te bespreek (Foutnommer 4). Ta maar die kerêltjie is glad met hom se mond – pure salesman – sal my nie verbaas as hy allerlei mooigebak aan mense afsmeer nie! Die man sê hy sal roetes en oornag geriewe beplan ek moet my oor niks bekommer nie en hy vra my toe ook ewe mooi dat ek hom nou nie voor die tyd moet uitvra oor waar ons heengaan en waar ons gaan oornag nie. Dis dan nou kwansuis in sy bekwame hande. Mense as ek maar geweet het wat wag vir my! (Foutnommer 5).
Wel ek bepaal my toe maar op my eie voorbereidings en so nou en dan waag ek om per e-pos die man oor ‘n dit en dat ‘n vragie te vrae. So vrae ek onderandere of hy reël vir ‘n ontbyt voor ons in die oggend wegspring – die antwoord kort en bondig – NEE!! En kyk toe weet ek HKGK.
Die heel lekkerste van ‘n toer bly vir my nog die vooraf beplanning en die pak. Wel ek het dit terdeë geniet en net aangegaan asof ek geen TOERLEIER het nie. Bande en briekblokke vervang, my fiets gewas en gepolish (Foutnommer 6). Klere, brêkfis, flitse. mediese noodtoerusting, kamera, batterye, braairooster, potte, panne ens gepak asof ek op ‘n maandlange toer gaan (te veel soos gewoonlik en dit vind jy uit aan die einde van die toer).
Ek het besluit om my fiets op ‘n waentjie af te sleep Suidkaap toe (‘n Heel eerste vir die van Heerden huishouding). Die toer was bestem vir 20 Februarie 2009 – 26 Februarie 2009. Ek het hier in Pretoria weggespring op 18 Feb 12:00 en was so teen 15:00 in Oudtshoorn. Net duskant Colesberg het ek ‘n band op die waentjie verloor maar gelukkig het ek twee spaarwiele by my gehad en kon ek die probleempie in ‘n ommesientjie oplos. So met die afry slag luister ek bietjie radio (RSG), maar mense kan die klomp so in die nag en op my nugtermaag vir jou ‘n klomp snert kwyt raak. Op Beaufort het ek toe sommer ‘n band laat oortrek net vir ingeval.
DAG 1:
Die volgende oggend is ek vroeg weg uit Oudtshoorn via Outeniquapas na George. Bly maar ‘n baie mooi stukkie om te ry. Ek dog toe, gedagtig aan TR se aggressiewe reaksie op my ontbyt vraagie, laat ek dan maar ‘n vinnige ontbyt inpak voor die ontmoeting en die volgende ses droeë ontbyt-stafie-oggende. Nou sal julle nie vir my glo nie – gelukkig julle weet ek praat altyd die waarheid – maar ek het nog nie mooi gesit nie toe bel TR en wil hy weet waar draai ek so. Ek het maar vinnig my ontbyt afgesluk en my na die Engen-motohawe gehaas waar ek my fiets moes aflaai. TR het my goed laat verstaan hys die TOERLEIER en nie daar is om harde arbeid te verrig nie. Ek moet nogals toegee dis hardewerk om ‘n BM op en af te laai. My grootste teleurstelling was natuurlik toe ek daar by daai hawe stop en hier staan die man met ‘n Honda – ‘n Transalp – Japcrab - en daai scooter se katalisator die is slegs ‘n paar sentimeters van die pad af. Wel al afleiding wat ek kon maak is dat die paaie waarop hy my gaan neem moet baie mooi wees – sonder hik of stoot. Wel al was ek nou heel vriendelik het ek die houding gehad van nouja Mr TR gooi my met dit wat jy in jou hoed het.
Mr TR lig my in dat ons mik vir die Hel vandag. Uit George via die Montagupas aan die onderkant van die Kwamanassiedam verby via die Oude Muragiepad (Schoemansdal) tot aan die voet van die Swartberge. Dis warm in die verdomde Suidkaap/Kleinkaroo – die sweet loop in strome by my helmet uit. Met die eerste steiltes van die Swartberge is my watersak (camel pack) leeg. Ek moet so hier in die stilte van my eie gemoed toegee dis baie mooi sover. Bo gekom is die uitsig onbeskryflik in mense taal. Met die nodige respek teenoor die van julle wat nou al gaan loer het na TR se fototjies – ‘n kamera kan nie vasvang wat die menslike oog sien nie. Ek kon nie anders as om net daar my Hemelse Vader te loof vir sy kunswerke nie. Die grootheid, die vermenging van kleur en tekstuur teen die agtergrond van ‘n blou blou hemel het my terug geneem na die dae toe ons nog die Stem elke Vrydag by die skool gesing het. “uit die blou van onse hemel – oor ons ewige gebergtes – waar die kranse antwoord gee”.
Ek het sommer hier besluit dat dit ook tyd is vir vergifnis – my vrou vir haar slinksheid (foutnommer 2 en 3), myself omdat ek my onderwerp het aan vooroordele en vir TR vir alles wat hy nog nie gedoen het nie. Oulik van my nê! – toe het ek nog nie geweet wat alles voorlê nie.
So arriveer ons by die afdraai na Gamkaskloof – die voorafgaande roete het my goeie selfvertroue vir die res gegee – die eerste paar kilos in die Kloof was asemrowend en die padoppervlakte gaanbaar. Ek is veilig deur die eerste driffie en ons stop by die eerste watervalletjie/stroompie, maak die watersakke vol en spoel so bietjie die ergste sweet van die gesigte af. Cooool! Maar van hier af was dit klippe kou – letterlik en figuurlik – steil afdraandes die agterwiel sleep sleep om die GS in toom te hou ek moet soos ‘n vrou al my skills gelyktydig probeer aanwend – hou jou oë daar waar jy wil gaan maar verdomp van Heerden moet nie na die Hel se helse afgronde kyk nie – staan in die kort draaie en gooi jou onderlyf effe na die draaikant – shit maar die draai is kort – koos ek gaan dit nie maak nie. Ek voel hoe my onderbroek dit ontgeld – briek- streep na briekstreep. Nou net soos ons nou so half onder in die Kloof kom dan skep ek moed, haal weer soort van normaal asem. TR wag en vra of als oraait is – ek skynheilig gee die thumps-up net om uit te vind ons moet al weer teen die volgende steilte uit. Ag nee TR hoeveel op en afs is daar nog oor – dit voel vir my al kompleet of ek geen krag in my oor het nie. Nou ontgeld TR dit hier in my binneste – ek kry nie eens kans om behoorlik ‘n mondvol water te sluk nie – my tong klou aan my verhemelte vas. Nog ‘n steilte uit net om te sien aan die anderkant het die Hel nog helse afgronde. Ek begin nou al om moord te oorweeg – dis ‘n helse straf wat ek hier in die verdomde warm helse Kloof moet verduur. Ek kan nie vir julle die verligting verduidelik wat ek ervaar het toe ons onder by die kiosk gekom het nie. ‘n Bier was nog nooit so lekker soos hier in die Hel nie. Ek dog die dag is nou oor net om te moet verneem nee ons het nog so 10 – 15 km om te doen voor ons by ons oornag spot kom. As dit nie vir die feit was dat hy my weer uit die Hel moet neem nie het ekke TR net hier verwurg.
Die volgende stuk pad was erger as die Hel self – jy ry in ‘n rivier bedding vol los ronde klippe – dan is ek hierdie kant van die pad dans ek halpad tussen die bosse in en by dit alles moer die katbos my deur die gesig dat die trane loop. Die volgende kom ons by ‘n laagwater brug van so om en by 20/30 meter wat verspoel het en gedeeltelik herbou is. Jippee dink ek gelukkig word ons nou gedwing om hier om te draai – shit - net om te hoor neewat ons kan hier oor en deur. Ek dink ek moet liewers nie vertel wat ek hier gedink en gewens het nie. Dit het sukkel sukkel gegaan met die swaar GS – ek het gesweet en geswets soos ‘n matroos maar ons is daar deur maar met die wete dat ons môre weer hier moes deur plus daai Helse bergpasse moet oor om uit te kom.
Ek was tot in my siel in moeg en my gemoed was dun – ek was ver van my vrou, nog verder van my kind en saam met TR die martelaar. Nadat ek egter ontslae geraak het van my ry klere, lekker warm gestort het en so bietjie op die groengras voor die huisie gelê en droom het, het die misgolf voor my gedagtes gewyk en plek gemaak vir perspektief. Die moegheid en stramheid van die spiere het ook so ietwat geskied en soos die aand gevorder het, het ek selfs weer vriendelik geraak met TR. Toe loop maak ek een van die grootste foute op die toer. Ek vra vir TR hoekom hy besluit het om die heel beste en mooiste op die eerste dag te ry. Nou ek kan julle nie mooi verduidelik van die smile wat ek gekry het nie, dit was nie vriendelik nie, dit was nie heeltemal meewaardig nie maar dit het my gestroop van ……. Kom ons los dit liewers net daar.
TR het vir ons daai aand die lekkerste rump gemaak wat ek in ‘n langtyd geëet het, die slaai het skoon vergete gebly. Toe is daar gesels soos twee ou vriende. Maar die spreekwoord sê: Pad se dinge bly pad se dinge. Toe ons egter so teen 10:30 loop skeef lê toe breek die hel in die Hel los. Ek dink dit was die duiwel self – mense iemand na aan ons – soos ek sê ek dink dit was die duiwel self - trek los en snork. Vroue! Julle het dit nog nie gehoor nie – op in tenoor en dan ‘n doodse stilte voor dit na onder in bas neer-donder. Gelukkig het die dag se gebeure my oorval en het ek onder die klanke van die Hel se Gedonder in ‘n soete slaap verval.
DAG 2:
Wat ‘n lieflike oggend. Ek was uitgerus en lus vir die toer. Die uit die Hel uit was glad nie so moeilik en veeleisend as die in nie. Ek kon sommer weer die mooi in die lewe raaksien en inneem. Maar TR was dit met my eens dit is ietwat van ‘n sensoriese oorbelading. Die tweede helfte van die Swartbergpas was sprokie-mooi. Ek het so bietjie begin verstaan van die vorige aand se smile maar ek het hom noglank nie vergewe nie. Ons moes aanstoot want die Baviaans lê wyd. Dis Saterdag en ons kry verskeie ryers langs die pad. Mooikloof – ja dis ‘n mooie kloof en ek begin twyfel in my eie oë – is dit regtig waar! – is dit regtig so mooi of droom ek net. Nee sê ek, eks baie moeg, my waarneming is op ‘n laagtepunt, ek is sensories uitgeput en oorvol. Toe nog die mooie grot wat ons huis vir die volgende twee nagte gaan wees. As my vrou hierdie grot sien gaan sy liries daaroor wees.
Saam met al die mooi was my senuwees egter opgewen soos ‘n stuk bloudraad oor môre se pad en passe. TR het my goed laat verstaan dat Holgat- en Combrinkspas nie vir sissies is nie.
Die eienaar het die heerlikste aandete so teen se-uur afgelewer, Varsgebakte brood met heuning en appeliefie konfyt, sosaties, dun skaapworsies, skaaptjops, ‘n pampoengereg en slaaie. Ons kon nie die helfte klaar maak nie maar dit was nietemin heerlik. Die aand het ek ‘n hele langruk gelê en sterre kyk voor ek my vrekskrik vir ‘n leeu wat hier neffens my brul – TR het hoeka vir my vertel van die luiperds wat in hierdie spesifieke klofie bly. Toe ek tot verhaal kom besef ek maar dis dieselfde ou wat die vorige aand in die Hel so ‘n lawaai opgeskop het. Dis TR wat so snork! Wel ek hoop die res van die kloof se mense is so moeg soos ek anders gaan hulle nie geslaap kry nie. Ek het vinnig onder die geklank van die TR-simfonie, van wêrelde verwissel. “wat is die slaap ‘n wondersoete ding”.
DAG 3:
Wat ‘n wonderlike voorreg om in ‘n grot in ‘n kloof binne in Baviaanskloof wakker te word. Die lekker het nie lank gehou nie want die besef van wat wag het my soos ‘n beker kouewater getref – van Heerden vandag moet jy oor Grasnek-, Holgat- en Combrinkpas en TR het gesê die Hel was kinderspeletjies teenoor wat vandag wag. Ek dink daar was ‘n groter holkol op die krop van my maag as die hele hokrans waarin ons geslaap het. TR pak ‘n lekker sny van die varsbrood en heuning weg voor ons die pad vat. Ons het alles van die fietse af gehaal behalwe my “topbox” sodat ons die pomp en noodhulpsakkie kon saam vat. Eerste stop is voor die Polisiestasie – dit is nie net die baviaans wat mooi is nie, ook die Polisiestasie is pragtif en baie netjies versorg. Ek sal wat wil gee om ‘n konstabel in hierdie kloof te wees. Volgens TR het hulle ‘n hele paarkeer die trofee vir die netjieste stasie gewen. Hier in my binneste jaag ek vir TR aan en elke keer wat hy stop om fotos te neem kan jy ‘n eier in my hol kook. Ek dwing myself om te vergeet van wat voorlê en eerder te konsentreer op al die mooi hier rondom my. Jy kan letterlik in enige rigting kyk – alles rondom jou is mooi – onbeskryflik mooi. Die nare gedagte aan HOLGAT wil egter nie wyk nie. Grasnek is glad nie so erg nie en die uitkykpunte is ‘n lafenis vir die oog en die siel. Wanneer ons die fietse afskakel is daar ‘n hemelse stilte. Ai TR was dit nodig om my te vertel wat voorlê en sê nou net ek kry dit nie reg om in daai pas te ry nie! So vorder ons tot aan die voet van HOLGAT. Luister nou hierna, ja en ek lieg nie: MR TR AAN DIE WOORD: “ luister van Heerden as ons wil omdraai moet ons nou hier omdraai (JA JA juig my hart)(nee! Nee! Sê my ego) want as ons eers in die pas is, is daar nie plek vir omdraai nie” en daar trek hy ek kry nie eens kans om te sê: “en daars niks waarvoor ek bang is”. Shit! Nou bly daar net een ding oor: stand-up, look-up and open-up. By meer as een geleentheid het ek op myself geskree om aan dit gestand te doen. Toe ons uiteindelik bo-op die plato kom toe loop die sweet my in strome af maar met die heerlike gedagte van ek het dit gemaak. Dit was ‘n salige gevoel van oorwinning. Die belangrikste les: as jy hier kon uit kan jy enige plek uit. Combrinkpas was sleg maar na Holgat is dit soos poeding. Ons is tot in Patensie om petrol te kry en sowaar wie loop ons daar raak – niemand anders as Tweetie en sy PEhonnepêlle. Wêreld is klein. Toe eet ons sommer so ietsie saam met hulle. Die terugtog na ons grothuis was peanuts behalwe vir die jong tollie wat my amper uit die aarde gehardloop het. Aan die einde van dag 3 het ek ‘n lied in my hart gehad – “en daaaars niks! Waarvoor ek bang is!”
Ons het die aand afgesluit met heerlike gebraade hoender en koedoe steaks. Soos die vorige aand kon ons nie al die kos baas raak nie. Nag drie het TR se opera my hoegenaamd nie gepla nie – weet nie wat die res van die kloof daaroor te sê gehad het nie?
DAG 4:
TR het belowe dat dag 4 ‘n kort rustige dag gaan wees – ‘n rusdag as mens van so iets in TR se teenwoordigheid kan praat. Lewendige mannetjie, ek is net dankbaar dat hy nie my korporaal in die weermag was nie. Hy het by sy woord gehou – ons het rustig uit die kloof gery en kon al die mooi en grootsheid indrink en vasbrand in my geheue. Ek glo egter vas om hierdie mooi te maksimaliseer moet hierdie roete nog ‘n keer gedoen word, ‘n derdekeer sal geen skade doen nie en ‘n vierdekeer kan dalk die lekkerste wees. As jy dit vyfkeer gedoen het kan jy jouself as baie geseënd beskou.Nadat ons uit die kloof is het ons een van die karoo se mooiste paaie gery – ek moes myself meer as eenkeer beteuel om nie te vinnig te ry nie. Plek plek het ek so aan die 140km/pu geraak. Na my mening heeltemal te vinnig vir grond maar ai dis so lekker.
Wel uiteindelik was ons in die Prins Alfredspas, nadat ons deur Grootrivierpoort en Uniondalepoort is. Ek het al baie op die forum en in tydskrifte van die pas gelees Nou was ek hier om hom te beleef. Nie ver gery nie toe stop ons by ‘n plekkie met die naam van Angie”s……. Dink hulle hoop om ‘n tweede Ronnie’s sex shop of iets te wees maar ek weet nie so lekker nie. Ek het egter ‘n baie lekker hamburger daar geëet. Daarvandaan is ons na die Trout Farm wat net nog so kilo of wat verder is. Baie mooi en interessante plaas met ewe gawe gasheer en vrou. Seker omdat hulle ook bikers is en eko-vriendelik is. Ons slaap in TiPi-tente – indiaans. Anders en baie mooi – die enigste keer op die toer wat ons op voortreflike beddens geslaap het. Jy kan (as dit nodig is) vuur maak in die tent. Die boonste deel van die tent is oop en word slegs toe gemaak as dit reën. Ingo sê dat daar ook nie muskiete in die tent kom nie asgevolg van die vinnige lugsirkulasie binne. Alles is baie skoon en netjies – die badkamer voel soos my eie by die huis. Die warm water word verskaf deur ‘n kontrapsie wat met rots en parafien werk – ‘n vriendin van my noem dit Dr Snuggels. As julle die hele storie wil hoor moet julle haar maar bel. Dit werk egter soos ‘n bom.
Op die werf loop daar die mooiste perde en blesbokke. So teen vier-uur het ons gasvrou vir ons varsgebakte piesangbrood voorgesit met egte botter. Heerlik heerlik! Die aand het ons hout gehad om vuur te maak vir Afrika wat ons ook gedoen het. Lekker vark en wors gebraai met aartappels en uie as bykos. Ek was nou baie rustiger as op die eerste been van die toer en my ooglede het ook sommer vroeg aand swaar geraak. TR het gladnie geopera nie of het ek hom gladnie gehoor nie? Wel ek het soos ‘n soet baba geslaap – deurnag!
DAG 5:
Vir die die dag was die volgende op die spyskaart: 60 km+ deur die res van Prins Alfreds pas, gevolg deur ‘n voorsmakie van die Nuwe Hemel – Kom-se Pad, mense as jy hier is wil jy nie verder gaan nie – jy wil hier bly, dis nie net mooi nie jy kan die Vrede op aarde… sien hoor en ruik. Hier is die lewe (mens, natuur en dier) in harmonie en die liefde gedy soos in ‘n jong bruid. Hulle sê sien is glo so gaan kyk maar gerus en ervaar dit aan jou lyf. TR in retrospeksie kan ek sê hierdie deel was die mees aangryplikste en heel mooiste deel vir my. Maar wag ek hardloop nou die storie vooruit. Die res van die spyskaart was: Phantompas, Homtinipas, Hoogekraalpas, Karatarapas,Touwsrivierpas, Silwerivierpas, Kaaimansrivierpas.
Die een is so mooi soos die ander – eintlik pas hulle soos ‘n legkaart in mekaar – dis jammer dat ons as mense net ten dele kan sien.
TR het meer as die helfte van sy bagasie by die huis in George afgegooi, – die GS is ook terstont herdoop na “mothership” en ek moes die nuwe vooraad aan boord neem. Mev TR het ons vinnig met ‘n middagetetjie bederf voordat ons die pad gevat het na Attakwaskloof waar ons op ‘n avontuurplaas oornag het. As jy ‘n loer vat op TR se blog sal jy gou opmerk dat hy nogal heel dikwels daar kamp – ek verstaan hoekom – want jy is teenaan moedernatuur se bors daar! Tyd is van geen belang.
Nog ‘n aand wat ek sal koester – nog ‘n stukkie ervaring wat as brandhout sal dien vir my oudag as ek koud en alleen voel. Dis oomblikke soos die wat die lewe vir my die meer as diemoeite werd maak en die feit dat ek dit op my fiets kon meemaak tel vir my dubbel die hoeveelheid punte. Ek het die aand vir ons ‘n potjie poetoepap gemaak en TR het weer twee van daai allemintige rumpsteaks gebraai. Dit het my egter gewen, ek het die orige stul die volgende oggend vir ontbyt geëet. Gedurende die nag het dit geweldig gereën – Mev TR het laat weet Meiringspoort het verspoel en is tydelik toe gemaak. TR was bekommerd dat Sewewekespoort dalk ook kon deurgeloop het. Gelukkig vir ons het dit nie gebeur nie.
DAG 6:
TR verduidelik dat die grootste gedeelte van vandag se pad die eerste amptelike verbindings roete tussen George en Kaapstad was Ons ookry onderandere deur Gysmanshoek- en Tradouwspas. “n Besondere dag na die heerlike reën van die vorige nag. Alles lyk so skoon en vars. Ons gang is egter nie so heeltemal stewig nie, so hier en daar het dit maar wankelrig gegaan deur die modder. TR se geloof het teen die tyd al op my begin afsmeer. Hy het ‘n sê ding van “TKC’s makes you invincible”. Maar hier en daar waar ons te gerus geraak het, het moedernatuur ons gou gewaarsku soos toe ek ‘n plas water teen redelike hoë spoed tref en al twee my voete van die voetrus afgeruk is. “Scary moment”.
Ten spyte van die reën was die dag nog steed baie drukkend. Ons het iets lig by die Pumpkin Inn geëet en toe by Ronnie”s gestop vir ‘n bier. Daar het ek met my hele outfit (behalwe vir my stewels) in die swembad gespring om lekker af te koel. Dit het nie vir baie lank gehelp nie maar was nogtans ‘n lafenis. Ons laaste oornag plek was nie veel meer as ‘n kilo of twee van Ronnie’s af nie. Daar het ons die hele middag in die swembad gelê soos “gaar paddas” (TR se uitdrukking). Die aand het ons gaan uiteet. Dit was ook die enigste aand van die toer wat ek en hy in afsonderlike vertrekke geslaap het – het gesukkel om aan die slaap te raak sonder my wiegeliedjie. Die volgende oggend hoor ek hy het tot middernag soos ‘n oorgaar padda in die swembad gelê – weet nie hoekom kon hy nie slaap nie?
En toe! _ soos alle goeie dinge staan ons voor die deur van die LAASTEDAG, DAG 7:
Vandag Seweweekspoort, Boschluyskloofpas, Huisrivierpas en as die finale die Outeniquapas. Die Seweweekspoort wou ek al in die vroeë 80’s gedoen het maar hy het my bly ontwyk. Nou het ek hom in my sakkie! Negentien kilometer kronkel die pad deur die reuse berge aan weerskante en verskeiekere oor ‘n vars bergstroompie. In ‘n mate kan jy die poort met Meiringspoort vergelyk behalwe dat Meiringspoort ‘n teerpad is, dit raserig is van al die verkeer en daar die reuk van petrol en diesel dampe is. Daarteenoor is Seweweekspoort stil, dit ruik skoon en vars en onder jou hoor jy die geknars van die bande oor die grond oppervlakte. Dis aards, dis ru, dis ongeskonde en byna onaangeraak deur die mense hande. C J Langenhoven beskryf dit so mooi in sy boek Sonde met die bure (Versamelde Werke II): “ En die berglug, met die geure van blomme en kruie en speserye belaai…….. hierdie lug van die Swarte Berge is om al die tyd van te weet, om bewustelik te geniet soos ‘n lekkerny wat nie maar net kos is nie. Maar ‘n lekkerny waar geen satheid op volg nie. Soos die tempel sy orrel het, het hy sy wierook. En die wierook, soos die orrel, is die tempel waardig”. Gelukkig moet ons oppad terug weer deur hierdie beskawing voordat ons terugkeer na die barbaarse GAUTENG. Die laaste stukkie pad na die dam het plek plek lelik verspoel die vorige aand. Ek het ‘n paar benoude oomblikke beleef deur die dongas maar gelukkig het ek mos TKC onder my! Die dam was ietwat van ‘n teleurstelling want hy was lelik leeg. ‘n Interessantheid is dat sou jy van die dam se wal in die rigting van die Hel stap sou dit ongeveer 12km wees tot by die huisie van oom Hannes waar ons die eerste nag geslaap het. Daar lê ongeveer 1500km se ry vir ons tussen die twee punte, 4 klowe en 28 passe en ‘n wêreld se wedervaringe.
My storie is maar net ‘n kort opsomming of soos hulle in engels sal sê: “An executive summary”. Tog soos ek op aand een teenoor TR bely het: Hierdie toer is die hoogtepunt van my lewe! Ek het al baie honderde kilos op my fiets afgelê maar hierdie 1650 km was die mees vervullendste in my hele lewe. Die toer het nuwe visies geopen en betekenis aan my lewe as ‘n skepsel van God gegee. TR ek was nie elke oomblik van die toer so baie lief vir jou nie, daarvoor moes ek te veel sweet en water drink maar jy kan maar ‘n toer reël ou maat. Ook ‘n groot dankie aan Mev TR en die klein trtjies dat julle hom vir my ‘n paar dae geleen het sodat ek hierdie wonderlike ervaring kon meemaak en beleef.
Van Bikevettie @ ADVENTURERIDER @ Reinewaarheid Renier van Heerden
Fotos:
Dag 1:
Dag 2:
Dag 3:
Dag 4:
Dag 5:
Dag 7:
.
No comments:
Post a Comment