Tuesday, January 18, 2011

Spoke, stories, swaarkry én Kouga se klowe

.

DIT is ’n stormagtige nag op Jammer-fontein, die plaas van Jan Prinsloo, perdeboer diep in die Kougaberge. Hy weet die dood wag op hom; hy moet ’n manier vind om te oorleef. Dalk sal die reën en donderslae die moordplanne help keer . . .

Nee, alles is op sy plek. Naarstig saal hy een van sy perde op en probeer ontvlug. Maar hulle kry hom voorgekeer, jaag hom terug tussen sy verskrikte perde, slag hom lewend af en eet van sy liggaamsdele.

Jan Prinsloo was berug as ’n werkgewer wat sy werkers ongenadig behandel het. Dae voor die moord op hom het hy twee plaaswerkers se vroue doodgeslaan. Die werkers het wraak gesweer en dit gekry daardie nag van 15 Januarie aan die begin van die 19de eeu.

“Sedertdien het die plaas verskeie eienaars gehad wat almal die plek verlaat het. Volgens oorlewering is dit omdat ‘onaangename’ manifestasies elke jaar op die aand van 15 Januarie daar voorgekom het,” skryf T.V. Bulpin in sy boek Discovering South Africa.

Prinsloo se oorspronklike opstal, sowat ’n kilometer vanaf die Moordenaars- rivier, is ’n ruïne, toegegroei onder digte bosse. ’n Vorige eienaar het sy opstal so 0,5 km verder van die oorspronklike opstal gebou in die hoop dat hy die spokery sal vryspring, skryf Bulpin verder, “maar ook dié opstal het ’n ruïne geword”.

Jammerfontein het berugtheid verwerf as Suid-Afrika se mees gespookte plek. Die boer op die buurplaas Boskloof het allerweë as Bang Jan Ferreira bekend gestaan. Sy nasate woon nog daar.

En Jammerfontein? Dit is wéér in nuwe hande, maar niemand woon permanent op die plaas nie. Nee, dit is nie oor spoke, perde of donderbuie op 15 Januarie nie; dit is omdat dit nou bewaringsgrond is. In die verhaal word vertel van die nasaat Anton Gerber, wat sy fortuin elders gemaak, teruggekom en sy familiegrond teruggekoop het nadat dit jare vantevore uit sy voorsate se hande geval het.

Jammerfontein lê langs die familiegrond, en Anton, nou ’n geswore Kouga-berger, het dit gekoop toe dit in die mark gekom het en dit by die oorspronklike Gerber-grond ingeskakel. Hy wat nooit as jong kind eens ’n voet gesit het op daardie of enige van die familiegrond nie.

As jong man het sy pa, Manie, al weggetrek van die grond, wat te klein vir goeie oorlewing was. Boerdery was swaar; daardie soort lewe was net te hard.

Anton het wel sy pa oor die grond uitgevra. “Sê nou maar net . . .” Nee, het pa Manie geantwoord: “Jy is te sag.” Hy het gelos, gestudeer en ’n super- suksesvolle sakeman geword.

Ironies genoeg sou dit sy pa se dood wees wat hom en sy gesin na die Kouga-aarde teruggeneem het. Anton vertel verder self: “Toe my pa oorlede is, het ons besluit om sy as by die ander familiegrafte te gaan strooi.

“Met die besoek het iets my laat besluit om die plaas te koop. Die stories oor die gebied het vir my begin sin maak.”

Die stories wat hy oor die jare by sy pa en ander familielede oor “ons grond en dae in die Kouga” gehoor het, was seker die eerste hoewel onsigbare aanvoorwerk wat gedoen is.

“My oupagrootjie Hendrik Mathys Gerber het in die laat 1800’s ’n hele paar plase in die Kougaberge in en om Moordenaarskloof besit.

“Die plase is aan sy kinders nagelaat, en my oupa Danie en sy broer Koos het die plase aan die beginpunt van Moordenaarskloof geërf. In 1944 is my oupa oorlede. Sy kinders (my pa, ooms en tannies) was toe al weg. Hulle wou nooit teruggaan soontoe nie omdat hul destydse stryd om oorlewing net te vlak bly lê het.

“Oupa Danie se plaas is toe opgeveil en het uit die familie se hande geval.

“Geleidelik is die een stuk familiegrond ná die ander aan ‘buitemense’ verkoop. ’n Paar jaar later was geen van oupagrootjie Hendrik se oorspronklike plase in enige van die Gerber- nageslagte se besit nie.”

Die grond het dalk “gegaan”, maar die spookstories het bly staan, en pa Manie kon dit goed oorvertel, onthou Anton.

“Só was daar ’n sekere plaashek op pad opstal toe wat nie een van die kinders ooit oop of toe wou maak nie. (Die kinders moes beurte maak om van die wa af te klim en die hek oop te maak en moes dan wag totdat die wa deur is voordat hulle weer kon toemaak.) Die probleem, het my pa vertel, was as jy daar alleen staan en moet toemaak, want dis dan wanneer die afkop-hond jou bestorm.

“Daar was ook nog die spook by die ou geelhoutboom wat ’n man ’n hele paar keer gesien het. Die mense het hom geglo, want, het hulle gesê, hy is met die helm gebore.”

Natuurlik is die verhaal van Jan Prinsloo ook aan die kinders vertel. Ook die een van die twee “versteende bewaarders” van Moordenaarskloof. “Soos die stories dit wou hê, was dit glo twee ‘gewone’ mense wat in afgryse versteen het toe hulle die moordorgie op Prinsloo aanskou het.”

Later het Anton ook die plaas waarop die twee versteende bewaarders oor die Moordenaarskloof staan en uittuur, gekoop – nie om te boer nie, maar om besoekersvoete na die magiese skoonheid van die Kouga se klowe en berge te trek.

“Ek het besluit om die plase vir ekotoerisme binne omgewingsvriendelike praktyke te ontwikkel. Berghuisies (daar is al twee) vorm deel van die plan.”

Gaste het al daar oornag; en nee, sê Anton laggend, niemand het nog kom kla oor ’n spook, perdepote wat klap of onverwagte donderstorms nie.

Dis net sowel daar het al besoekers kom bly, want dit het gesorg dat die ou Assegaaibosch-hotel langs Kareedouw se een toegangspad ’n nuwe baadjie en vierster-lewe gekry het.

“Met verloop van tyd het ek besef dat die rit plaas toe deur die Moordenaarskloof gevaarlik kan wees vir die besoeker wat nie sy pad in die donker ken nie. Toe koop ek die ou Assegaaibosch-hotel omdat dit die naaste punt na die plaas vanaf die R62-roete is en dus ook die ideale oornagplek vir besoekers voordat hulle die rit deur Moordenaarskloof na die plaas toe aanpak.”

Dié ou hotel is nou, ná uitgebreide restourasiewerk, soos ’n vrou: veelsydig, statig en só besoekersvriendelik, daar is selfs ’n kleurryke speelkamer vir kinders (ja, met televisie en twéé tafeltennisblaaie). Jy kan daar trou, konferensie hou, jou longe uitswem, voetslaan veld toe of in die stukkie inheemse bos (met geelhoutbome) anderkant die stroompie gaan rondloop.

En daar by Assegaaibosch het ek so byna besluit om nooit weer vleis te eet nie, maar net vis – só lekker was die engelvis-gereg wat ek op my eerste aand daar geëet het. Maar sulke hemelse smaak lê mos in die hande van die bereiders. Ek het huis toe gegaan, self ’n visgereg berei, en toe eet ek maar weer alles.

Maar terug na die hotel wat opgeknap is en toe ’n lodge geword het, want hier is blykbaar ook ’n . . . spook. Nadat die restourasiewerk voltooi is, het die werkers begin praat oor die vriendelike man wat kom kyk het hoe hulle werk. Eers het hulle gedink hy is maar net ’n agie, maar toe hulle later agterkom hy verdwyn so vinnig soos hy verskyn, het hulle met een oog oor die skouer begin werk.

Miskien was hy maar net ’n bou-inspekteur, skerts Anton, want deesdae is hy nêrens te sien nie.

En die Moordenaarskloof se spoke? Hy het hulle nog nie gesien nie, maar hy gaan nie soek nie.

“Dit los ek maar aan die besoekers oor. Maar wag, dalk moet ons vir 15 Januarie volgende jaar ’n groot spook-soekgeselskap bymekaarkry; dan begin ons hier en werk dan deur na die Moordenaarskloof.”

Dan skryf ek dit dadelik by 15 Januarie 2009 in my dagboek.



Hierdie artikel was in Die Burger op 02/06/2008

Kliek op die logo vir die oorspronklike artikel:








.

No comments: