Wednesday, September 8, 2010

VRF1200

.
Tussen die groot Sport fietse is daar onlangs 'n nuwe model vrygestel wat almal aan die praat het. Nie net omdat dit 'n nuwe model is nie, maar omdat hierdie fiets waarskynlik 'n hele nuwe era van motorfietse inlei. Honda se VFR1200 is die eerste dubbel-koppelaar vol outomatiese ratkas motorfiets en aan die voorpunt wat tegnologie op die tipe motorfietse aanbetref.

'n Vol outomatiese motorfiets? Sport fiets nogal? Iets klink nie reg nie? Ry hy soos 'n "scooter"? Ek moes net gaan uitvind!

Lank voor die VFR1200 sy opwagting gemaak het was daar al bespreek en bespiegel, want sien, Honda het lank reeds opgehou om die legendariese Blackbird te verkoop en daar was eenvoudig nie 'n opvolger nie. Sou hierdie die plaasvervanger vir die Honda Blackbird wees? Of sou hy die ST1300 vervang? Of die VFR800? Nie een van die drie nie. Hierdie fiets is toe 'n heel nuwe model wat 'n heel nuwe reeks van fietse vir Honda inlei.


As mens langs die fiets staan is die eerste ding wat mens oplet dat hy geen rathefboom of koppelaar op die handvatsels het nie. Voorwaar vreemd. Baie mense wonder hoe mens sal wegtrek met so fiets, ek het gewonder hoe maak mens as jy wil stop? Mens sal tog instinktief die koppelaar wil gebruik en afrat? Daar was net een manier om uit te vind.


As jy die VFR aanskakel en hoor brul is hy in neutraal. Met 'n skakelaar by jou regterhand skakel jy oor in "Drive" en met 'n tentatiewe draai van die oor trek jy weg. Die fiets voel gewigtig aan die begin maar sodra hy beweeg "verdwyn" al daai gewig en die fiets voel veerlig. Die fiets verwissel self ratte en daar gaan jy. En nee, hy ry nie soos 'n "scooter" nie, jy voel hoe die rate wissel net soos 'n gewone motorfiets. Die fiets is ook ongelooflik progressief en hy rat self af en rem deur sy ratte voor jy nog instinktief wil af rat. Ek het letterlik nie een keer aan die koppelaar probeer vat nie want as jy dit sou wou doen is die rat reeds gewissel. Dit was vreemd aan die begin, maar binne 500m se verkeer was ek gewoond daaraan en selfs 'n "ou skool" motorfiets ryer soos ek moet erken dat ek beïndruk was. In 'n verkeer situasie is die outomatiese ratkas 'n plesier.


Toe ek oorskakel na semi-outomatiese modus was ek nog meer beïndruk. Jy gebruik steeds nie 'n koppelaar nie, maar omdat jy ratte wissel met jou voorvinger (op) en duim (af) bly jou linkerhand besig en jy mis nie 'n koppelaar nie. Die fiets is reaktief en vinnig en die rat wisseling seep glad. Ek het regtig gehou van die modus waar ek self die ratte wissel. Dis meer interaktief tussen jou en die fiets.

Op die oop pad na Outeniqua pas skakel ek toe oor na die sg. Sport modus. Dis toe net hier waar hierdie VFR1200 en hierdie ratkas tot sy reg kom. Hierdie fiets is gebou vir Sport Modus! Ek het voorheen gedink die fiets is reaktief en die ratkas progressief, maar hierdie is in 'n ander klas. Dit voel of die fiets lewendig raak onder jou en jy hoef net die lyne deur die draaie te kies terwyl die V4 masjien sy werk doen en die adrenalien pomp.


Hierdie is 'n Sport fiets en jy sit in die "vooroor" posisie met jou voete hoog naby jou agterstewe. Die sit posisie is egter nie soveel vooroor soos by 'n Super fiets die geval sou wees nie en die VFR is inderwaarheid heel gemaklik. Die instrumente paneel is volledig en dui alles aan van die spoed tot die buite temperatuur. Die padhouvermoë is besonders en die remme is uitstekend en as 'n pakket is die VFR1200 voorwaar 'n wenner. Dis een van daai fietse waar jy kan opklim en binne minute tuis kan voel. Ek dink dis redelik duidelik ek was baie beïndruk.


Die Honda se ratkas spog met onafhanklike koppelaars wat afsonderlik deur die ewe en onewe ratte gebruik word. Met ander woorde die 1ste, 3de en 5de ratte het hulle eie koppelaar en die 2de, 4de en 6de ratte het hulle eie koppelaar. Die koppelaars word om die beurt gebruik om elke rat verwisseling soomloos te laat gebeur.

Toe Honda die fiets gebou het, het die aandag nie net by die nuwe outomatiese ratkas gebly nie. Die VFR spog ook verder met aandrywing d.m.v. 'n dryfas, so kettings en olie is iets van die verlede. Selfs die stilering van die fiets is funksioneel. Die fiets spog met dubbel panele wat die lug vloei optimaal gebruik om die fiets meer stabiel te hou teen hoë spoed, maar ook die regte dele van die V4 masjien te verkoel. Verder word die warm lug wat uitkom weg van die ryer en passasier gekanaliseer vir 'n gemakliker en koeler rit. Die gekombineerde rem stelsel optimaliseer die voor en agter remme se rem vermoë en dit word verder gekomplimenteer deur Honda se lig gewig ABS rem stelsel. Hierdie fiets is werklik van voor tot agter deel van die nuwe generasie van Sport Motorfietse.


Die belangrikste spesifikasies is as volg: Dis 'n 1237cc, water verkoelde 4-slag V4 masjien wat 127kW en 129Nm lewer. Sy tenk het plek vir 18.5 liter petrol en die fiets het 'n droë gewig van 267kg.


Selfs vir 'n skeptiese ryer het hierdie fiets verras. Dis bitter moeilik om iets uit te sonder aan die fiets waarvan ek nie gehou het nie, alhoewel ek moet erken dat 'n bietjie groter petrol tenk dalk welkom sou wees. Die lewendige outomatiese ratkas sal groot byval vind by veral die jonger geslag wat daarvan hou om op die voorpunt van tegnologie te leef en vir die steeds skeptiese "ou skool" ryers daarbuite is die goeie nuus dat hierdie fiets ook met 'n gewone ratkas beskikbaar is.

Die VFR1200F verkoop vir R164 999 en die VFR1200FD verkoop vir R169 999. Net een brokkie raad: moenie die motorfiets se oor draai by die robot om te hoor hoe die masjien brul nie. In so geval vlieg 'n outomatiese 1200cc motorfiets onverwags weg!




Die Artikel het verskyn in die Tuinroete Burger op 26 Aug 2010.








.

No comments: