Wednesday, April 18, 2018

Sweedse Pyle tref die kol!



Sedert Husqvarna in 2014 op die EICMA-motorfietsskou in Milaan ’n paar konsepmodelle van nuwe stadsmotorfietse bekend gestel het, wag die wêreld gretig om hul hande op dié stylvolle fietse te kry.


Die Vitpilen 401 en Svartpilen 401 (Sweeds vir wit pyl en swart pyl) verteenwoordig ’n heel nuwe rigting vir die Sweedse groep, dog is dit nie die eerste keer dat Husqvarna (wat meer bekend om sy veldfietse is) sulke padfietse bou nie. In die 1950’s, die era van James Dean en Porsche Spyders, het Husqvarna ook ’n Silverpilen gebou, genoem na Mercedes se ikoniese SL-sportmotor. Nagenoeg 11 300 eenhede is gebou. n Jaar ná die bekendstelling van die 401-konsepmodelle is ’n Vitpilen 701 ook gewys en onlangs die Svartpilen 701-konsepmodel. Dit was dus ’n lang wag, maar die Vitpilen 401 en 701 en Svartpilen 401 is nou eindelik markgereed. Terwyl die foto’s ons destyds beïndruk het, slaan die stilering jou asem weg as jy hom in lewende lywe sien. Husqvarna het vorendag gekom met iets nuuts en modern maar ooglopend retro met die enkel ronde voorlig en minimalistiese aanslag. Minimalisties beteken egter nie afskeep nie, daar is aandag geskenk aan die fynste detail terwyl die komponente net van die beste is. Die Vitpilen 401 en 701 is gebou met die stad in gedagte terwyl die Svartpilen 401 ’n aggressiewer aanslag het met veldfietsbande en hoër handvatsels. Moet egter nie dat die stilering jou mislei nie. Hierdie is glad nie ’n veldfiets nie, dis ’n stylvolle stadsfiets wat ’n spesifieke beeld wil oordra. Die Vitpilen 701 was eerste aan die beurt. Alhoewel die fiets klein vertoon, voel hy nie so as jy op hom sit nie. Die sitposisie is vooroor, met die handvatsels amper net so hoog soos die saal. Dis egter nie ongemaklik nie en as jy eers aan die beweeg is, voel jy letterlik soos ’n pyl wat deur die verkeer klief.

Die 692 cc-eensilinder-enjin (56 kW, 72 Nm) gedy in dié fiets wat basies net ’n stel handvatsels, petroltenk en ’n sitplek is. Die motorfiets weeg ’n skamele 157 kg, so, enige draai van die versneller beteken ’n ontploffing in versnelling en adrenalien, verslawend so. Groot was die verrassing dus toe ek die Vitpilen 401 bestyg en onmiddellik meer van die kleiner model gehou het. Die 401 word aangedryf deur ’n 375 cc-eensilinder wat 32 kW en 37 Nm lewer, heelwat minder as die 701 dus, tog voel dit nie so as jy ry nie. Die 401 se enjin loop gladder en hardloop vrylik deur sy toere. Die sitposisie is ook vooroor en inspireer jou om heeltyd vinniger te wil ry. Deur die draaie voel jy soos ’n wafferse renjaer en padgeoriënteerde bande, sportvering en ABS-remme boesem vertroue in terwyl die Vitpilen rats is en presies doen wat jy wil hê.

Laaste aan die beurt was die Svartpilen 401 en in vergelyking met die model wat hom voorafgegaan het, is die verskil so wyd soos, wel, swart en wit. Eerstens is die posisie meer regop en die handvatsels hoër. Aangedryf deur dieselfde 375 cc-enjin kan die “Swart Pyl” net so rats deur die verkeer speel, maar jy kan ook rustiger ry en ’n bietjie rondkyk as jy wil. Die uitsig oor die verkeer is beter en die aggressiewer stilering tref die oog. Die Husqvarna Pilen-motorfietse bied ’n eenvoudiger, meer stylvolle benadering tot motorfietsry en stadspendel. Die 701 is bedoel vir die ernstiger ryer, maar ek dink dis die 401’s wat meer byval gaan vind. Of jy die “Swart” of “Wit Pyl” gaan verkies, gaan afhang van jou rystyl en persoonlikheid.

Pryse: Vit- en Svartpilen 401 – R89 699; Vitpilen 701 – R147 699.



Artikel: Johann van Tonder Fotos: ZC Marketing

Skakel na oorspronklike artikel.

No comments: